Pad na herstel na dwelm-gebruik

Nadat ‘n persoon wat afhanklik van dwelms was, skoon is vir paar dae, weke of selfs ‘n paar maande, verwag hulle geliefdes dat hulle dadelik weer ‘n sterk selfbeeld moet hê, goeie gesinsverhoudings sal handhaaf en begin studeer of werk. Hulle verwag dat die persoon betroubaar, netjies, gemotiveerd en georganiseerd sal wees. En dit is glad nie te veel gevra vir mense wat nié uit die vreeslikheid van ‘n dwelmverslawing kom nie.

In die meeste gevalle kan die persoon wat op die herstelpad is nie aan sulke verwagtinge vir maande of jare voldoen nie en dan wonder ouers of eggenotes oor die egtheid van die genesing.

Hulle het vrae soos:
“Hoekom herstel hy of sy nie?” “Gebruik hy of sy nog steeds dwelms?”

Die antwoorde van hierdie vrae lê opgesluit in Maslow se teorie oor die hiërargie van behoeftes. Ek gaan nou eers sy teorie bespreek en dit daarna toepas op die persoon wat verslaaf was aan dwelms en daarna bespreek ek die herstelpad na aanleiding van die teorie.

Abraham Harold Maslow was 'n Amerikaanse sielkundige wat bekend is vir sy teorie wat die hiërargie van behoeftes beskryf. Hy was van mening dat psigiese gesondheid berus op die voldoening van menslike behoeftes volgens prioriteit. Ander sielkundiges na hom het sy teorie uitgebeeld in die vorm van ‘n piramiede met die grootste en mees fundamentele behoeftes aan die onderkant (sien figuur 1).

Sodra daar aan sekere behoeftes voldoen word skuif ‘n persoon op na die volgende vlak met ander behoeftes. Laastens word die vlak van selfaktualisering bereik, alhoewel min mense dit bereik. Volgens hierdie teorie moet daar eers aan ‘n mens se mees basiese behoeftes voldoen word voordat daar aan behoeftes op ‘n hoër vlak voldoen kan word. Die piramiede lyk soos volg:

Figuur 1

Fisiologiese behoeftes

Fisiologiese behoeftes sluit die fisiese behoeftes vir menslike oorlewing in. Indien daar nie aan hierdie vereistes voldoen word nie, kan die menslike liggaam nie behoorlik funksioneer nie en sal ‘n persoon sterf. Fisiologiese behoeftes is die belangrikste en daarom moet daar eerste aan die fisiologiese behoeftes aandag gegee word. Die fisiologiese behoeftes wat Maslow hier in gedagte het is suurstof, klere, kos, skuiling, slaap en seks.

Veiligheidsbehoeftes

Die behoefte aan veiligheid kom op die voorgrond sodra daar aan die fisiologiese behoeftes voldoen is. Dit sluit in: fisiese veiligheid en finansiële sekuriteit, gesondheid, sekuriteit van familie en besittings.

Die behoefte aan liefde en om te behoort

Sodra daar aan mense se fisiologiese en veiligheidsbehoeftes aandag gegee is kom die behoefte aan liefde en om te behoort na vore. Hierdie behoefte wat mense het om emosioneel betekenisvolle verhoudings te vorm, sluit vriendskappe, seksuele intimiteit en liefde in. Volgens Maslow het mense nodig om ‘n gevoel van samehorigheid en aanvaarding te beleef. Mense moet voel dat ander mense hulle lief het; beide seksueel en nie-seksueel.

Die behoefte aan waardering en respek

Die volgende hiëargiese behoefte is dat ‘n mens deur ander mense aanvaar en waardeer word. Hierdeur word selfbeeld en selfrespek gebou. Maslow het twee weergawes van aansien-behoeftes opgemerk: 'n "laer" weergawe en 'n "hoër" weergawe. Die "laer" weergawe van aansien is die behoefte aan respek van ander. Dit sluit in: 'n behoefte aan status, erkenning, roem, prestasie, en aandag. Die "hoër" weergawe manifesteer as die behoefte aan selfrespek en sluit in 'n behoefte aan bekwaamheid, bemeestering, selfvertroue, onafhanklikheid en vryheid. Hierdie "hoër" weergawe het voorrang bo die "laer" weergawe, want dit berus op 'n innerlike bekwaamheid deur ervaring.

Die behoefte van self-aktualisering

Die laaste behoefte is dié van self-aktualisering. Hierdie vlak van behoefte verwys na wat 'n persoon se volle potensiaal is en die verwesenliking van daardie potensiaal, hetsy dit die ideale ouer, atleet of wat ookal is. En dit sluit die behoefte om ander te dien in.

Soos wat gesonde mense die piramiede van onder na bo klim, gaan die persoon wat dwelms begin gebruik dit afklim van bo na onder. Sien figuur 2.

Figuur 2

Eerstens gee hulle hulle doelwitte prys en dit word al hoe minder belangrik. Hulle gaan nie meer kerk toe nie, bid en lees nie meer die Bybel nie. Hulle kreatiwiteit en spontaniteit gaan dood en hulle reik nie meer uit na ander nie. Hulle sonder hulle af van mense wat nie dwelms gebruik nie en neem nie meer ander mense se behoeftes en gevoelens in ag nie.

Die volgende ding wat verdwyn is die behoefte aan selfrespek. Dit is die dinge wat ‘n persoon doen om goed te voel oor hulle self en om respek by ander te kry – goed soos werksprestasie, higiëne, goeie maniere en om mooi aan te trek. In die verslawing is dit dinge wat al hoe minder belangrik word. En ‘n persoon hou al minder van homself. Dit is nie meer belangrik om klasse by te woon nie; skoon klere aan te trek, te stort na ‘n dag se werskaf is nie meer ‘n prioriteit nie. Hulle sal sommer met hulle werksklere gaan slaap. Dit is nie belangrik vir hulle om hulle bed op te maak nie. Klere word uitgetrek en net gegooi waar dit uitgetrek word.

Soos wat die selfagting verdwyn word die behoefte aan liefde ook al hoe minder. Verslaafdes het hulle dwelms lief en dié liefde is selfsugtig want daar is nie plek om iemand anders ook lief te hê nie. Hulle het wel hulle ouers, kinders en eggenotes lief, maar hulle het die dwelms liewer en sal nie toelaat dat enigiemand tussen hulle en hulle dwelms kom nie. Dan gaan die behoefte aan liefde en om te behoort, dood. Die dwelms is al waarin hulle belangstel.

Die volgende behoefte wat verdwyn is die behoefte aan veiligheid. Om ‘n huis of woonplek te hê beteken dat ‘n mens huur moet betaal. En verslaafdes sal eerder hulle geld op dwelms spandeer en so hulle huise verloor. Dit maak nie vir hulle saak nie – hulle sal agter in ‘n motor bly as hulle net hulle dwelms kan bekostig. En dit sal nie eens vir hulle slegs wees nie.

Die laaste behoefte wat doodgaan is die behoefte aan kos, seks en slaap. Verslaafdes verloor gewig want hulle eet nie. Dwelms neem eetlus weg en dae kan verbygaan sonder dat hulle eet. Dwelms, veral kokaine, versnel die metabolisme. Hulle leef net vir wanneer hulle hulle dwelms kan gebruik en het nie ‘n saak met gesonde eetgewoontes nie.

Om te herstel moet ‘n mens weer die piramiede van onder af boontoe klim. En dit neem tyd. Jy begin nie bo net omdat jy, voordat jy die dwelms gebruik het bo was nie. Die piramiede moet weer van onderaf geklim word. En dit is ‘n tydsame proses. Daarom dat geliefdes wonder oor die “herstel” want hulle hou nie die piramiede in gedagte nie.

Die eens afhanklike moet nou heel onder begin. Daarom dat ‘n persoon wat nie meer dwelms gebruik nie, nou meer bewus is dat hulle honger is. Ek verwys my kliënte wat herstel so gou as moontlik na ‘n biokinetikus om hulle te help met ‘n oefen- en eetplan om gewig op te tel en weer spiere te bou. Hulle moet leer om roetines rondom etes in te stel. Hulle moet eers onthou om ontbyt te eet op ‘n sekere tyd. Dan om ook aandete te eet op ‘n ander tyd. Later ook om die middagete te eet.

Hulle moet weer leer om vrugte en groentes en vleis te eet. Ek het goeie kommunikasie met hulle mediese dokter want hulle moet ook ekstra aanvullings kry om hulle chemiese stowwe in die liggaam te herstel. Om aan hulle fisiologiese behoeftes te voldoen moet hulle geld hê en daarom moet hulle probeer om ‘n werk te kry. Geld is nodig vir kos en mediese uitgawes.

Sodra daar aan hulle fisiologiese behoeftes voldoen is, begin hulle besorg raak oor die veiligheidsbehoeftes. Dit behels ‘n omgewing wat stabiel, voorspelbaar en vry van angs en chaos is. Hulle moet ‘n huis of woonstel huur. Ek ken baie jongmense wat afhanklik van dwelms was en wat op ‘n stadium op straat onder die brug gebly het en ‘n paar jaar later ‘n huis gekoop het!

Die volgende behoefte wat begin wakker word is die behoefte aan liefde of om te behoort. Aan die begin is hulle dikwels van mening dat hulle niemand iets kan bied nie. Op ‘n dag begin hulle smag na iemand en dan besef jy hoe ver hulle al op die pad na herstel is. Dan begin hulle rondkyk na iemand om die lewe met hulle te deel. Hulle soek iemand om lief te hê. Die behoort-behoefte het ingespring.

Die volgende vlak is baie belangrik en noodsaaklik vir die herstel. Dit is die behoefte na selfrespek. Dis waar hulle goed begin doen wat hulle goed laat voel oor hulleself. Dikwels het hulle op universiteit probleme gekry en het hulle nooit hulle graad klaargemaak nie. Nou bekwaam hulle hulle in ‘n rigting. En dit verhoog hulle selfbeeld. Ware selfbeeld is gebaseer op bekwaamhede en bevoegdhede en betekenisvolle prestasies. Hulle kry respek vir hulself en ander mense kry respek vir hulle.

Die laaste behoefte is die van selfaktualisering wat bestaan uit die ontdek en vervulling van jou eie innerlike potensiaal en vermoëns. Elke persoon se selfaktualisering verskil. Hulle herstel hulle verhouding met God en dien hulle familie en samelewing met hulle gawes.


- Dr. Annelize Endres